Spring na inhoud
Onderhoud

Digsuster

’n Koorjuffrou het gesê sy moet nooit weer sing nie. Nou maak sy die songs wat sy self wou hoor.

Elmarie · · 38 min lees

Digsuster se visuele kunswerk: ’n vrou in pienk skryf langs ’n vintage radio, omring deur donker blomme.
Beelde uit Digsuster se visuele wêreld · digsuster.co.za

Digsuster se antwoorde van 31 Augustus 2026 staan hier soos sy dit geskryf het.

Jy ken dalk daardie stem: bly liewer stil, moenie so baie vra nie, wees ’n bietjie minder. Digsuster het jare lank daarna geluister. Toe skryf sy ’n gedig vir ’n vriendin — en ontdek ’n manier om dit te laat sing.

Met AI het daardie gedig ’n song geword, en die eksperiment het Digsuster geword. Nou skryf sy oor die dinge wat sy vroeër weggesteek het. In haar gesprek met Elmarie loop sy terug na die dogtertjie wat geleer het om stil te bly, en vertel hoe sy weer begin praat het. Dalk herken jy iets van jouself.

Die dogtertjie in die dop

Wie of wat ís Digsuster vir jou?

Ek dink om Digsuster te verstaan, moet ’n mens eintlik ’n bietjie teruggaan na die klein dogtertjie wat ek was.

Van baie jonk af het ek geweet daar is iets anders aan my. Ek het nie noodwendig geweet wat dit was nie. Ek het net gevoel ek kyk anders na die wêreld.

En natuurlik, as ’n kind voel jy nie dadelik: “O, interessant, ek het ’n ongewone manier van dink.” Jy dink: Is daar iets fout met my?

Ek het baie vrae gevra. Ek was nuuskierig oor dinge wat grootmense soms verkies het kinders moet nie raaksien of bevraagteken nie. En ek het baie vinnig begin agterkom dat sekere vrae mense ongemaklik maak.

Wanneer ’n kind iets vra wat eintlik te naby aan die waarheid kom, is ’n volwassene se eerste reaksie nie altyd ’n rustige verduideliking nie. Soms is dit irritasie. Soms word hulle kwaad. Soms word jy vertel jy is hardegat, rebels, moeilik of disrespectful.

En as kind begin jy dan patrone leer. Nie net oor ander mense nie, maar oor veiligheid.

Wanneer is dit veilig om myself te wees? Wanneer moet ek stilbly? Watter deel van myself kan ek wys en watter deel moet ek wegsteek?

Ek het my nuuskierigheid begin afwater. My diep denke begin wegpak. My vreemde vrae begin sluk.

En oor die jare het ek ’n dop gebou. Daardie dop het al hoe harder geword.

Die ironie is dat terwyl ek geleer het om myself weg te steek, het ek al hoe beter geword daarmee om ander mense te sien.

Ek kon patrone in mense raaksien. Wat hulle sê teenoor wat hulle eintlik bedoel. Wat hulle probeer wegsteek. Waar ’n reaksie eintlik vandaan kom.

Ek het amper soos ’n skadudetektor geword.

Dit is seker ook hoekom sielkunde my nog altyd gefassineer het.

Ek wou eintlik sielkunde studeer, maar ek kon dit nie bekostig nie. So ek het ander rigtings gevolg, skoonheid, later aptekersassistent, maar ek het nooit opgehou leer nie.

Ek het deur die jare omtrent dertig kort kursusse gedoen wat met goed soos life coaching, trauma, toegepaste sielkunde en soul healing te doen gehad het.

Ek het oorspronklik gedink ek wil ander mense help.

En toe moes ek uiteindelik ’n baie ongemaklike waarheid oor myself erken.

Miskien was my hele journey nie hoofsaaklik daar om ander mense te genees nie.

Miskien was dit om myself te leer genees.

Ek het altyd gedink “be the change you want to see in the world” beteken ek moet ander mense help verander.

Later het ek dit anders begin verstaan.

Ek het besef ek wou ander mense heelmaak omdat niemand eintlik die tyd geneem het om mý heel te maak nie.

En ek kon dit nie vir iemand anders doen nie.

Ek moes dit vir myself doen.

Ek moes teruggaan na daardie klein dogtertjie wat ek jare tevore onder al daardie klippe toegemaak het.

Die een wat ek geleer het moet stil wees.

Die een wat geleer het haar vrae maak mense ongemaklik.

Die een wat geleer het sy moet ’n bietjie minder wees.

En ek dink Digsuster is, op ’n baie vreemde manier, daardie dogtertjie wat uiteindelik weer uit daardie dop geklim het.

Sy vra weer die vrae.

Sy kyk weer.

Sy sê die goed wat ek jare lank geleer het om nie te sê nie.

Sy is nie ’n nuwe persoon wat ek geskep het nie.

Sy is ’n ou deel van myself wat ek uiteindelik opgehou het om te probeer stilmaak.

Jy kies om jou identiteit privaat te hou. Is die anonimiteit vir jou deel van die kuns, of is dit eerder ’n manier om jouself te beskerm?

Aanvanklik was dit beslis ’n vorm van beskerming.

Ek het baie lank gewoond geraak daaraan om myself te filter. So die idee om iets te skep sonder dat mense onmiddellik my gesig, my agtergrond en my persoonlike lewe daaraan koppel, was vir my veilig.

Maar hoe langer Digsuster bestaan, hoe meer besef ek anonimiteit het vir my ook iets anders geword.

Dit laat die werk eerste praat.

Mense kan nie sê: “O, ek weet hoekom sy dit geskryf het, want ek weet wat met haar gebeur het” nie.

Hulle moet self betekenis maak.

En ek hou daarvan.

Ek dink kuns behoort soms ’n bietjie ruimte te hê tussen die kunstenaar en die gehoor.

Digsuster hoef nie vir mense te vertel wat hulle moet voel nie.

Sy kan net die deur ooplos.

Wanneer mense jou musiek hoor, dink hulle dalk eerste: “Dis AI.” Maar hoeveel van Digsuster is eintlik jy?

Ek dink mense sien soms die AI en mis die baie belangrike deel wat lank voor AI bestaan het.

Ek was nog altyd aangetrokke tot taal.

Van baie jonk af het ek gedigte geskryf. Ek het kort stories geskryf. Ek het boeke vol daarvan gehad wat ek weggesteek het. Dit was eintlik een van die eerste plekke waar ek gevoel het ek hoef nie voor te gee nie. Ek kon net wees.

En ek het ook van jongs af begin om liedjies te skryf, al het ek absoluut geen idee gehad hoe ’n liedjie gestruktureer behoort te wees nie.

Ek het net geskryf wat in my kop gekom het.

AI het my later gehelp om daardie wêreld wat reeds daar was, te leer vertaal.

Ek kon byvoorbeeld ’n gedig wat ek geskryf het invoer en begin vra: Okay, maar wat hier is eintlik die chorus? Waar is die verse? Wat kan ’n bridge wees?

En ná ’n paar songs het ek begin verstaan hoe daardie struktuur werk en kon ek dit self begin doen.

Dit het vir my al hoe lekkerder geword.

Maar toe gebeur daar nog iets interessants.

Ek het besef ek hoef nie noodwendig die tradisionele pad te volg nie.

Dit is eintlik baie deel van my geaardheid om te wonder: Maar wat as ons dit anders doen? Hoekom mag ek nie diep skryf en ’n beat daarby sit? Hoekom moet ’n diep song “sad en stadig” klink?

Ek kon begin besluit wat ek self wil hoor.

As ek ’n sekere klank in my kop gehad het, maar nie geweet het hoe om dit aan die AI-musiekmaker te beskryf nie, moes ek dit gaan leer.

Ek moes soms eers uitfigure watter instrument ek eintlik hoor.

Dan gaan luister ek op YouTube hoe ’n spesifieke instrument klink.

Dan kom ek terug en probeer dit beskryf.

So ek het stadig begin leer van musiek sonder dat ek noodwendig self ’n instrument bespeel.

Ek het wel as jonger ’n bietjie klavier en kitaar gespeel, maar ek is nie ’n instrumentalist nie.

En ja, natuurlik kan jy net ’n knoppie druk en kyk wat die masjien vir jou uitspoeg.

Maar dit is vir my glad nie die interessante deel nie.

Die lekker deel is wanneer ek begin verstaan wat ek wil hê.

Watter instrumente.

Watter ritme.

Watter energie.

Watter stem.

Waar die song moet oopbreek.

Waar dit moet terughou.

Ek leer nog elke dag.

En miskien is dit juis wat ek so besonders aan hierdie proses vind: ek hoef nie klaar te wees om te begin nie.

Ek dink ook baie aan ’n koorjuffrou wat vir my gesê het ek moet asseblief tog nooit weer sing nie.

So, vir haar wil ek eintlik net sê:

Take that. Kyk nou.

Ek kan nie sing nie.

Ek weet dit.

Maar dit beteken nie ek moet wegbly van musiek nie.

Ek moes net ’n ander deur kry om daarby uit te kom.

En AI het vir my daardie deur oopgemaak.

So wanneer iemand vra hoeveel van Digsuster eintlik ek is, sou ek sê:

Die hele rede waarom sy bestaan.

AI het my nie ’n stem gegee nie.
Dit het my gehelp om die stem wat ek nog altyd in my kop gehad het, hoorbaar te maak.

Wat kan jy deur Digsuster sê wat jy dalk nie op enige ander manier sou kon sê nie?

Ek kan uiteindelik die vrae vra wat daardie klein dogtertjie geleer het sy mag nie vra nie.

Dit is seker die eenvoudigste manier om dit te stel.

Ek het baie jare spandeer om te leer hoe om myself te filter. Om eers die kamer te lees voordat ek iets sê. Om te kyk wie gaan triggered raak. Om te besluit hoeveel van myself veilig is om te wys.

Digsuster doen die teenoorgestelde.

Sy vra.

Sy ondersoek.

Sy sê: “Maar hoekom?”

En as iemand ongemaklik raak, beteken dit nie noodwendig die vraag was verkeerd nie.

Partykeer beteken dit net die vraag het aan iets geraak wat ons eerder nie wou sien nie.

Ek dink daarom is Digsuster vir my so bevrydend.

Ek hoef nie meer daardie klein dogtertjie se nuuskierigheid te versmoor om ander mense gemaklik te hou nie.

Ek kan haar uiteindelik laat praat.

As Digsuster ’n persoon was wat saam met ons in die studio sit – hoe sou sy wees?

Ek dink sy sou eintlik baie soos ek wees, en waarskynlik heelwat meer ongemaklik as wat mense sou verwag.

My praatbrein en my skryfbrein werk baie verskillend. My brein beweeg ongelooflik vinnig, maar ek praat nie teen dieselfde spoed nie. So wanneer ek onder druk is en iemand vra my ’n diep vraag, kan my brein binne drie sekondes by twintig verskillende antwoorde wees terwyl my mond nog besig is met die eerste een. Dan vergeet ek wat ek eintlik wou sê en kan ek myself halfpad in ’n heeltemal ander storie bevind.

Ek sou waarskynlik baie babbel. Ek sou iets probeer verduidelik, afdwaal, myself onderbreek, besef ek het die hele punt gemis en dan waarskynlik iets sê wat ek glad nie bedoel het om te sê nie. En ek sou seker ’n paar ongelooflik stupid goed sê wat almal laat lag.

Die ironiese ding is dat ek waarskynlik ook besig sou wees om almal in die studio te analiseer terwyl ek met hulle praat. Ek sou hulle gesigsuitdrukkings dophou, hulle energie probeer lees, luister na hoe hulle iets sê en waarskynlik sommer in my kop begin wonder wat agter dit alles aangaan. Dit vat ongelooflik baie breinkrag.

Dit is eintlik een van die groot redes hoekom ek verkies om hierdie antwoorde te skryf. Wanneer ek skryf, kan ek my brein stadiger kry. Ek kan een gedagte vat en dit klaar dink voordat die volgende een my aandag steel. Ek kan teruggaan, iets uitvee, dit anders stel en uiteindelik by die punt uitkom wat ek eintlik probeer maak het.

So as Digsuster saam met julle in die studio sou sit, sou sy waarskynlik nie klink soos hierdie antwoorde wat ek nou geskryf het nie.

Sy sou meer deurmekaar wees.

Sy sou lag.

Sy sou waarskynlik te veel praat.

Sy sou ’n vraag antwoord en halfpad vergeet wat die vraag was.

Maar sy sou ook baie vinnig baie dinge raaksien.

En teen die einde van die gesprek sou sy waarskynlik huis toe gaan en dan drie uur later ’n boodskap stuur met die perfekte antwoord wat sy eintlik in die studio moes gegee het.

Die skaduwee

Jy skryf baie oor die dele van onsself wat ons probeer wegsteek, ons “skaduwees”. Hoekom is jy so gefassineer met daardie donker dele van menswees?

Ek dink my belangstelling in die skaduwee het begin lank voordat ek geweet het daar is ’n naam daarvoor. Van kleins af was ek baie bewus van die goed wat mense nie sê nie. Ek het gekyk na reaksies, stiltes en die verskil tussen wat iemand sê en wat ek eintlik by hulle aanvoel. Ek het baie vinnig patrone begin raaksien.

Toe ek later Carl Jung se werk ontdek, het baie dinge vir my begin sin maak. Veral die idee dat daar dele van onsself is wat ons wegdruk omdat dit nie pas by die persoon wat ons dink ons behoort te wees nie.

Ons leer van kleins af watter dele van onsself aanvaarbaar is en watter dele mense ongemaklik maak. So ons begin sekere goed wegpak. Woede. Jaloesie. Vrees. Skaamte. Selfs die dele van onsself wat net eenvoudig “te veel” voel.

Maar wegpak beteken nie weg nie.

Dit is vir my waar die skaduwee interessant raak. Want kan jy werklik sê jy ken jouself as daar dele van jouself is wat jy nooit bereid is om te ontmoet nie?

Ek dink ook baie aan yin en yang. Ons praat maklik van lig en donker asof die een goed en die ander sleg is, maar hulle bestaan in verhouding tot mekaar. Jy verstaan lig anders wanneer jy donker ken. Jy verstaan sagtheid anders wanneer jy jou eie hardheid leer ken.

Ek dink nie heelheid beteken dat jy uiteindelik net uit lig bestaan nie. Ek dink dit beteken jy kan die verskillende dele van jouself sien en verstaan sonder om onmiddellik daarvoor weg te hardloop.

Dit is ook iets wat baie persoonlik vir my geword het. Ek het as kind geleer om sekere dele van myself kleiner te maak... my nuuskierigheid, my diep denke, my vreemde vrae. Later het ek besef dat daardie dele nie noodwendig die probleem was nie. Ek het net geleer om hulle weg te steek.

So wanneer ek oor die skaduwee skryf, gaan dit vir my nie net oor die donker dinge in ons nie. Dit gaan ook oor die dele wat ons begrawe omdat ons besluit het hulle is nie aanvaarbaar nie.

Miskien is dit uiteindelik wat heelheid vir my beteken... om bereid te wees om die hele mens te ontmoet.

In “Wilde Dinge” sê jy dit gaan nie oor boosheid nie, maar oor introspeksie. Wat is die “wilde ding” in jouself wat jy moes leer verstaan?

Vir my gaan “Wilde Dinge” oor ’n manier van menswees. Dit gaan oor mense wat bereid is om nie net die wêreld rondom hulle te bevraagteken nie, maar ook hulleself. Hoekom voel ek so? Hoekom glo ek dit? Waar kom hierdie oortuiging vandaan? Is dit werklik myne, of het ek dit net geleer omdat iemand voor my gesê het dit is hoe dinge werk?

Ek was nog altyd so. Ek hou nie daarvan om reëls blindelings te volg nie. As ’n grootmens vir my sê iets is waar, wil ek weet hoekom. As iemand in ’n posisie van mag vir my sê “dis hoe dit is”, wil ek weet wie hom daardie mag gegee het. En as almal in ’n ry staan, wil ek weet waarheen ons gaan voordat ek besluit ek wil saamloop.

Ek dink dit is juis hoekom mense soms ongemaklik raak wanneer jy die norm bevraagteken. Jy vra nie noodwendig omdat jy teen iets is nie. Jy vra omdat jy self wil dink.

En dit geld ook vir die manier waarop ons geleer word om met onsself te werk. Ek raak nogal geïrriteerd wanneer iemand vir my sê: “Wees net positief.” Nee. Laat my eers uitfigure wat hier aangaan. Laat my dit uitrafel. Ek sal self besluit wat ek daarmee moet doen.

As ek in my grot gaan sit, hoef jy nie met jou fakkel agter my aan te kom en jou beliefs, jou reëls en jou reguit lyne op my probeer afdwing nie. Jy mag jou waarheid hê. Ek mag my eie een gaan ontdek.

Ek dink die Wilde Dinge waarvan ek sing, is daardie mense wat bereid is om dit te doen. Mense wat nie bang is om hulle eie menswees te ondersoek nie. Wat nie hulle authentic self gaan afwater net omdat dit nie in iemand anders se boks pas nie.

Ek moes self leer dat ek nie daardie deel van myself hoef stil te maak nie. Ek het lank gedink my vrae, my nuuskierigheid en my manier van dink maak my moeilik of anders op ’n slegte manier.

Nou dink ek dalk is dit presies die punt.

Ons hoef nie almal dieselfde pad te loop net omdat iemand lank voor ons besluit het dit is die regte een nie.

Portretkuns uit Digsuster se visuele wêreld: ’n vrou in magenta tussen blomme.

Ek is ’n Wilde Ding. En ek like dit.

Visuele kunswerk: Digsuster

Jy skryf: “Ons soek nie die son om ons donker te doop nie.” Dink jy mense probeer soms te vinnig van hulle donkerte ontslae raak, in plaas daarvan om dit te probeer verstaan?

Ja, ek dink ons is baie vinnig om donkerte as iets te beskou waarvan ons ontslae moet raak.

Iemand is hartseer en ons sê: “Wees positief.” Iemand is kwaad en ons sê: “Laat dit gaan.” Iemand is deur iets moeiliks en ons probeer hulle amper dadelik by die “lesson” of die “silver lining” kry.

Maar wat as jy eers net daar mag wees?

Wat as jy nie dadelik hoef te weet wat die les is nie?

Ek dink daar is waarde daarin om soms in jou eie donkerte te sit en dit te probeer verstaan. Nie om daarin vas te sit nie, maar om te vra: Waar kom hierdie gevoel vandaan? Wat probeer dit vir my wys? Hoekom raak hierdie spesifieke ding my so diep?

Dit is vir my wat daardie lyn beteken. Ons hoef nie die son te gebruik om die donker uit te vee nie.

En ek dink dit sluit baie aan by Jung se idee van die skaduwee. Jy kan nie iets integreer wat jy weier om te sien nie. As jy voortdurend probeer om net die mooi, positiewe en aanvaarbare dele van jouself te wees, gaan die res van jou nie sommer verdwyn nie. Dit gaan net ’n ander plek kry om te leef.

Ek het dit self moes leer. Ek is iemand wat baie dink en baie uitrafel. Ek wil verstaan wat onder iets lê voordat ek besluit wat ek daarmee gaan doen. Ek hou nie daarvan wanneer iemand vir my ’n vinnige antwoord gee op iets wat ek nog besig is om te probeer verstaan nie.

So nee, ek dink nie elke donker plek moet onmiddellik verlig word nie.

Partykeer moet jy net lank genoeg daar sit om uiteindelik te sien wat eintlik in die donker is.

En wanneer jy dit eers kan sien, kan jy self besluit wat jy daarmee wil doen.

Baie van jou songs raak aan seerkry, trauma, verhoudings, selfbeeld en verkeerde besluite. Is dit vir jou makliker om sulke dinge in ’n lied te sit omdat jy dit deur musiek kan uitdruk, of maak dit dit juis meer persoonlik?

Ek dink vir my begin dit by stories. Ek beleef nie noodwendig alles waaroor ek skryf self nie. Ek is ’n groot empath en ek tel mense en verhoudings baie vinnig op. My brein begin amper vanself patrone aanmekaar sit. Ek kan na twee mense kyk en later in my kop die hele situasie soos ’n movie sien... wat tussen hulle gebeur, wat hulle sê, wat hulle nie sê nie, waar die spanning sit en wat moontlik onder dit alles aangaan.

Dan begin ek skryf.

Ek dink ek het nog altyd ’n gawe gehad om stories te vertel. As kind het ek al gedigte en kort stories in boeke geskryf. Dit was een van die min plekke waar my brein stil genoeg geword het dat ek net kon wees.

Met my songs is dit dieselfde. Ek probeer ’n gevoel, ’n dinamika of ’n menslike ervaring vasvang en dit in woorde omsit.

En ja, ek dink soms kan dit iemand help.

Ek skryf byvoorbeeld oor ’n verhouding wat nie noodwendig my eie verhouding is nie. Iemand wat daarna luister, kan dalk skielik iets in hulle eie verhouding herken. Hulle kan vir die eerste keer die patroon sien wat hulle tot dan toe net aangevoel het.

Ek hou daarvan.

Want mense hoef nie altyd vertel te word wat fout is nie. Partykeer moet jy dit net iewers hoor sodat jy dit self kan begin raaksien.

Dit is ook hoekom ek nie probeer om songs te skryf wat vir mense voorskryf hoe hulle moet voel of wat hulle moet doen nie. Ek wil die storie vertel. Ek wil die ding op die tafel sit. Wat iemand daarmee doen, is hulle eie.

En dan is daar natuurlik ook songs wat baie naby aan my kom. Wanneer dit my eie ervaring is, kan skryf nogal intens wees, want ek vat iets wat in my bestaan en gee dit ’n naam. Maar selfs dan is die skryfproses vir my ook ’n manier om iets wat deurmekaar is, uit my kop te kry en voor my te sit.

Ek dink dit is wat ek die meeste van skryf hou. My kop kan honderd goed gelyk probeer verwerk. Wanneer ek begin skryf, val die stukke uiteindelik op hulle plek.

Dan kan ek die storie sien.

En soms verstaan ek eers dan wat ek eintlik gesien het.

Jy sê jy skryf nie om iets toxic te promote nie, maar omdat daar waarde daarin is om ’n naam aan sekere dinge te gee. Wat hoop jy gebeur binne iemand wanneer hulle hulself in een van jou songs herken?

Ek hoop hulle herken iets wat hulle nog nie heeltemal kon verwoord nie.

Veral met verhoudings dink ek mense kan ongelooflik lank binne ’n situasie leef sonder om regtig te besef wat besig is om te gebeur. Jy raak gewoond aan sekere gedrag. Jy maak verskonings. Jy pas jouself aan. Jy dink miskien almal se verhouding werk maar so.

Dan hoor jy iets in ’n song en jy dink: “My fok... dis presies wat hier aangaan.”

Daardie oomblik interesseer my.

Want skielik het iets wat vaag was ’n naam gekry. Jy kan dit nou van ’n bietjie afstand af bekyk. Jy kan daaroor dink. Jy kan dit met iemand bespreek. Jy kan selfs net vir jouself erken: “Okay. Ek sien dit nou.”

Ek dink daar is baie waarde daarin om dinge na die oppervlak te bring sonder om iemand te verneder of te vertel hoe hulle moet leef. Mense is intelligent. Gee hulle iets eerlik om na te kyk en laat hulle self daaroor dink.

Ek wil hê my songs moet daardie spasie skep.

’n Plek waar iemand vir ’n paar minute kan sit met iets wat hulle dalk al lank probeer wegdruk het.

En dalk gebeur daar niks dadelik nie. Dalk loop hulle net weg met ’n vraag in hulle kop.

Ek dink selfs dit kan genoeg wees.

Want ’n vraag kan nogal gevaarlik wees. Sodra jy hom eers begin vra, kan jy hom nie altyd weer ongedaan maak nie.

Winter Love

In jou skrywe oor “Winter Love” sê jy: “Winter love is om iemand te sien sonder al die mooi verpakking.” Wat beteken dit vir jou om iemand regtig te sien?

Ek dink ons ontmoet mense altyd eers deur ’n sekere weergawe van hulle. In die begin is alles oop. Die wêreld voel maklik. Jy sien iemand lag, jy sien hulle opgewonde raak, jy sien hoe hulle jou laat voel, en jy begin ’n prentjie van hierdie persoon vorm.

Maar dan kom daar ander seisoene.

Jy sien hulle wanneer hulle moeg is. Wanneer hulle onseker is. Wanneer hulle nie meer probeer om alles bymekaar te hou nie. Jy begin die dele sien wat hulle gewoonlik vir die wêreld wegsteek.

En wat vir my belangrik is in die song, is die lyn: “Not sadder, just more honest.”

Want ek dink ons maak soms die fout om te dink die weergawe van iemand wat ons aanvanklik ontmoet het, is die “regte” een, en alles wat later uitkom is die probleem.

Ek dink dit is eerder dat jy uiteindelik meer van die mens sien.

Die somer was ook hulle. Die winter is ook hulle.

Om iemand regtig te sien beteken vir my dat jy nie meer net verlief is op die prentjie wat jy van hulle gemaak het nie. Jy begin die werklike mens ontmoet. Die een met al die verskillende kante, die goed wat maklik is om lief te hê en die goed wat meer van jou vra.

En dit verander ook die betekenis van kies.

In die somer het ek jou ontmoet. In die winter het ek jou leer ken.

Dis waar die song vir my sy hart kry. Ek sê nie net “ek is nog hier omdat ek jou liefhet wanneer jy sukkel” nie. Ek sê eintlik: “Nou weet ek meer van jou as wat ek geweet het toe ek op jou verlief geraak het... en ek kies jou steeds.”

Dít is vir my om iemand regtig te sien.

Jy kyk verby die weergawe wat jy aanvanklik van hulle gemaak het, en jy begin die mens sien wat werklik voor jou staan.

Jy vra: “Sal jy my nog kies as ek nie meer maklik is om lief te hê nie?” Wat dink jy is die verskil tussen iemand liefhê wanneer alles maklik is en iemand liefhê wanneer dit moeilik raak?

Ons wys almal ons mooiste kant vir die wêreld. Ons sit ons beste voetjie voor en probeer gewoonlik hê mense moet die weergawe van ons sien wat goed lyk, wat sterk is, wat alles onder beheer het. Maar dit is nie die hele mens nie. Daar kom tye wat jy breek, tye wat jy ongelukkig is, tye wat jy nie mooi voel nie en tye wat jy self nie eintlik weet wat met jou aangaan nie.

Ek dink die moeilike deel van liefde begin wanneer daardie ander kante na vore kom. Jy moet in ’n verhouding veilig genoeg voel om ook jou chaos op die tafel te kan sit sonder om bang te wees dat die ander persoon jou nou anders gaan sien. Want as jy iemand liefhet, gaan jy uiteindelik die hele mens ontmoet.

Ek glo baie sterk dat elke mens kontras dra. Jy kan sag wees en kwaad word. Jy kan sterk wees en heeltemal breek. Jy kan baie gelukkig wees en steeds dae hê waar jy sukkel. Ons probeer soms om net een weergawe van onsself te wees, maar menswees werk nie so nie.

Ek dink selfliefde speel ook ’n groot rol daarin. As jy nie jouself kan liefhê nie, begin jy maklik van iemand anders verwag om vir jou te bewys dat jy liefde werd is. Dan raak jy verlief op ’n idee van wat daardie persoon vir jou moet wees, eerder as om die mens voor jou werklik te leer ken.

En dit beteken nie jy moet alles wat iemand doen aanvaar nie. Daar is ’n groot verskil tussen iemand se moeilike seisoen verstaan en vernietigende gedrag goedpraat. Mense gaan deur dinge. Daar gaan tye wees wanneer daar nie geld is nie, wanneer daar verlies is, wanneer die lewe uitmekaar val en jy nie jou beste self is nie. Ek dink liefde wys homself baie in hoe twee mense besluit om daardie dinge te verwerk.

Jy kan iemand ondersteun sonder om hulle te probeer fix. Jy kan langs iemand sit terwyl hulle deur iets gaan en hulle die ruimte gee om dit op hulle eie manier te probeer verstaan. En jy kan leer om nie elke slegte oomblik wat iemand gehad het later teen hulle te gebruik nie.

Want uiteindelik dink ek ons almal wil weet: as ek vandag nie my mooiste weergawe is nie, kan ek nog steeds hier wees? Kan ek nog steeds eerlik wees? Kan ek nog steeds mens wees?

Vir my is dit waar liefde moeiliker raak, maar ook baie meer werklik. Wanneer alles maklik is, is dit maklik om iemand lief te hê. Die dieper vraag is wat gebeur wanneer jy die dele sien wat nie so maklik is nie... en jy moet besluit of jy steeds bereid is om hierdie mens te leer ken, te verstaan en saam met hulle deur die volgende seisoen te stap.

Dink jy mense raak verlief op wie iemand werklik is, of op die weergawe van daardie persoon wat hulle aanvanklik ontmoet?

Ek dink ons raak aanvanklik baie keer verlief op ’n weergawe van iemand. Ons wys almal ons beste kant wanneer ons iemand nuut ontmoet, en die ander persoon vul die res van die prentjie self in.

Dit is eers later dat jy begin sien wie iemand werklik is... hoe hulle optree wanneer hulle kwaad is, bang is, moeg is, onseker is of deur ’n moeilike tyd gaan.

En dan dink ek die vraag is: kan jy jou beeld van daardie persoon verander soos jy hulle beter leer ken? Want jy kan nie iemand liefhê en terselfdertyd aanhou verwag dat hulle die persoon moet wees wat jy aanvanklik van hulle gemaak het nie.

Mense is baie meer kompleks as die eerste weergawe wat ons van hulle ontmoet.

Jy skryf dat mense wat mekaar ongelooflik goed ken, mekaar steeds verkeerd kan verstaan. Hoekom dink jy gebeur dit?

Omdat ons nooit net luister na wat iemand sê nie. Ons luister ook deur alles wat ons self al beleef het. Ons eie vrese, vorige seerkry, aannames en verwagtinge sit saam met ons in elke gesprek.

Jy kan iemand twintig jaar ken en steeds dink jy weet wat hulle bedoel voordat hulle klaar gepraat het.

En soms is dit juis omdat jy iemand so goed ken dat jy ophou vra. Jy begin hulle patrone invul vanuit jou eie prentjie van hulle.

Ek dink goeie kommunikasie is daarom nie net om iemand goed te ken nie. Dit is om bereid te wees om weer nuuskierig oor hulle te wees.

Glo jy mense ontmoet mekaar toevallig, of glo jy party mense moes eenvoudig op jou pad kom?

Ek glo aan soul families en aan destiny. Ek glo ons ontmoet sekere mense omdat daar iets is wat ons saam met hulle kom leer, en dat party ontmoetings deel is van ’n groter journey as wat ons op daardie oomblik kan verstaan.

Ek glo ook dat ons sekere lesse kies voordat ons hier kom. Nie dat alles vooraf vir ons uitgespel is nie, maar dat daar sekere ervarings is waardeur ons wil groei.

En as jy ’n les mis, dink ek die lewe gee jou gewoonlik nog ’n kans. Jy kan die persoon verloor, die verhouding beëindig of van die situasie wegstap, maar as jy nog nie verstaan het wat jy moes verstaan nie, kan dieselfde patroon weer opdaag... net met ’n ander gesig.

Dit is amper asof die lewe sê: “Okay, kom ons probeer weer.”

So ja, ek glo sommige mense moes eenvoudig op my pad kom. Maar wat ek uit daardie ontmoeting leer, en wie ek daarna kies om te wees, bly my keuse.

Lock In

Wat beteken “Lock In” vir jóú?

Vir my beteken “lock in” om terug te kom na myself. Om die geraas van buite stil te maak en op te hou om my rigting te bepaal volgens wat ander mense dink ek behoort te doen.

Ek dink baie van ons spandeer ongelooflik baie energie daaraan om onsself te verduidelik, te verdedig en te bewys. Op ’n stadium moet jy net besluit: ek weet wie ek is, ek weet wat vir my belangrik is, en ek gaan dit volg.

“Lock in” beteken ook nie dat ek alles uitgesorteer het nie. Dit beteken ek is bereid om die pad te loop terwyl ek nog besig is om uit te figure waarheen dit gaan.

Vir my is dit daardie oomblik waar jy ophou om toestemming te wag en begin kies. Nie omdat jy skielik seker is van alles nie, maar omdat jy uiteindelik meer vertrou wat binne jou aangaan as die geraas rondom jou.

Jy sê “lock in” beteken nie jy het skielik alles figured out nie. Wat dink jy verstaan mense verkeerd oor selfvertroue en om jou rigting te kies?

Ek dink mense verwar selfvertroue baie keer met sekerheid. Hulle dink jy moet eers weet presies wat jy doen, waarheen jy gaan en hoe alles gaan uitwerk voordat jy kan begin.

Vir my werk dit anders. Jy kan onseker wees en steeds kies. Jy kan bang wees en steeds beweeg. Jy kan jou rigting verander wanneer jy nuwe dinge leer.

Ek dink selfvertroue is nie om te weet jy gaan reg wees nie. Dit is om te weet dat, selfs as jy verkeerd kies, jy jouself genoeg vertrou om weer op te staan en ’n ander pad te kies.

Jy hoef nie die hele pad te sien om die volgende tree te vat nie.

Jy praat daarvan om op te hou om jouself deur ander mense se opinies te definieer. Was daar ’n punt waar jy moes besluit: “Ek is klaar besig om myself te verduidelik”?

Oor en oor en oor. En om eerlik te wees, ek leer dit steeds.

Ek dink dit is een van daardie lesse wat jy nie net een keer leer en dan is jy klaar nie. Elke keer wanneer ek myself betrap dat ek probeer verduidelik hoekom ek iets doen, hoekom ek anders dink, of hoekom iets vir my sin maak, moet ek myself weer vra: vir wie probeer ek dit eintlik bewys?

Ek het lank gedink as mense my net reg verstaan, sal hulle my aanvaar. Maar ek het uiteindelik besef jy kan jouself tot blou in die gesig verduidelik en iemand kan jou steeds deur hulle eie filters sien.

So ek probeer al hoe meer gemaklik raak met die feit dat ek nie vir almal verstaanbaar hoef te wees nie.

En ja... ek leer dit nog.

Wie is moeiliker om te ignoreer: ander mense se opinies, of jou eie stem in jou kop?

My eie stem in my kop. My brein het my al meer afgekraak as enige lewende mens.

Ek dink ander mense se opinies kry ook net soveel mag as wat ons dit gee. Baie keer hoor ons iets by iemand anders en dit haak vas omdat dit aan iets raak wat ons reeds oor onsself glo. Dan voel dit asof húlle opinie ons definieer, terwyl dit eintlik ons eie oortuiging is wat dit so hard laat land.

So vir my is die moeiliker werk om daardie stem binne-in my te leer onderskei. Watter deel is werklik my waarheid en watter deel is iets wat ek oor myself aangeleer het?

Ek dink ek sal nog lank besig wees om daardie twee uitmekaar te leer ken.

Die masjien en die keuses

Wanneer het jy die eerste keer besef: “Wag... ek kan AI gebruik om die musiek in my kop werklik te maak?”

Ek was nog altyd baie ingestel op nuwe tegnologie. Ek het in daardie tyd ’n oorgang gemaak van fotografie na design, websites en bemarking, so dit was vir my belangrik om op hoogte te bly van wat aangaan. Ek het reeds stories vertel deur visuals en hele wêrelde vir brands te skep, en ek het Suno gebruik om generiese AI-jingles vir daardie werk te maak. Ek het nooit gedink ek kan daarmee iets persoonliks skep nie. En om eerlik te wees, daardie vroeë songs het nogal soos ’n blik geklink.

Teen die einde van 2025 het ’n vriendin deur ’n moeilike tyd gegaan. Ek wou vir haar ’n gedig skryf om haar op te cheer, en toe wonder ek sommer: wat sal gebeur as ek hierdie gedig in ’n song verander? Ek het dit regtig net vir die fun gedoen.

Sy was mal daaroor en het my aangemoedig om dit te post. Ek het dadelik gesê: nee, nie onder my naam nie.

En die volgende dag is Digsuster gebore.

Ek het binne ’n baie kort tyd ’n naam, logo, brand en socials opgestel en die song gepost. Dit het onverwags nogal traksie op TikTok gekry, en ek het amper in dieselfde asem begin uitfigure hoe om ’n song behoorlik te release.

Dit was eintlik nooit ’n groot plan nie. Dit het begin met ’n gedig vir ’n vriendin... en toe ontdek ek skielik ’n hele nuwe manier om stories te vertel.

Wat doen jy self wanneer jy ’n Digsuster-song skep, en waar tree AI in?

Ek doen eintlik baie meer as wat mense waarskynlik besef. Ek begin met die konsep en die storie, skryf die lirieke en besluit presies wat ek wil hê die song moet sê. Daarna begin die musikale deel. Ek dink oor die gevoel, tempo, energie, vokale karakter, instrumente en hoe die produksie moet beweeg. Ek beskryf dit so akkuraat as wat ek kan en gebruik dit om verskillende rigtings te toets.

AI tree in wanneer ek daardie idees in klank begin omskep. Ek gebruik dit om die musiek, vokale en produksie te genereer, maar ek aanvaar nie sommer die eerste resultaat nie. Ek luister, vergelyk, verander, herwerk en genereer weer totdat dit nader kom aan wat ek in my kop hoor.

Ek dink die belangrikste ding is dat ek nie vir AI sê: “Maak vir my ’n song,” en dan vat ek wat uitkom nie. Ek probeer eers self weet wat ek wil hoor. Hoe beter ek my eie idee verstaan, hoe beter kan ek die instrument gebruik.

En ek leer nog elke dag. Ek het byvoorbeeld aanvanklik nie eens altyd geweet watter instrument die klank sou gee waarna ek soek nie. Dan gaan luister ek daarna, leer wat dit doen en probeer dit weer. Op daardie manier het AI vir my ’n baie vreemde musiekskool geword.

So die AI doen die deel wat ek self nie fisies kan uitvoer nie. Ek kan nie ’n hele band speel, ’n sanger laat sing of ’n produksie van nuuts af bou nie. Maar ek kan ’n idee hê, dit ontwikkel, rigting gee en baie duidelik weet wanneer die resultaat vir my reg of verkeerd voel.

Die masjien maak die klank. Ek maak die keuses.

Waar trek jy vir jouself die lyn tussen “ek het ’n liedjie geskep” en “AI het ’n liedjie vir my geskep”?

Ek wonder baie oor hierdie een, want ek beskou myself nie regtig as ’n “AI artist” nie. My kuns lê vir my in storievertelling. AI is die instrument wat my toelaat om daardie stories ’n stem te gee.

Ek het eintlik jare lank met presies dieselfde ding in fotografie geworstel. Ek het nagte omgesit om my kamera, beligting en die craft te bestudeer. Dan kry iemand ’n foto terug wat vir hulle ongelooflik baie beteken, vol rou emosie, en die reaksie is: “Jou kamera neem sulke mooi fotos.”

En ek verstaan hoekom mense dit sê. Maar hulle sien nie alles wat agter die kamera gebeur het nie.

Dis hoe ek ook oor AI voel. Mense sien die instrument baie maklik raak, want die instrument is sigbaar. Wat hulle nie noodwendig sien nie, is die mens wat die storie geskryf het, die emosie daarin gesit het, die visie gehad het, die musiekrigting gekies het en ure spandeer het om uit te figure hoe om iets wat in haar kop bestaan, uiteindelik hoorbaar te maak.

Ek wil ook nie voorgee ek doen iets wat ek nie doen nie. AI genereer die stem en die musiek. Ek kan nie self daardie dinge uitvoer nie. Maar om te sê “AI het ’n song vir my gemaak” voel vir my soos om te sê my kamera het my foto gemaak. Dit los die belangrikste deel uit.

Vir my is Digsuster se kuns die storie. Die tegnologie is net die manier waarop die storie by iemand anders uitkom.

Dink jy ’n AI-kunstenaar kan werklik ’n kunstenaar wees?

Ek dink die interessante vraag is eintlik wat ons bedoel wanneer ons iemand ’n kunstenaar noem.

As iemand net ’n prompt intik, op generate druk en die eerste ding vat wat uitkom, sou ek self nie weet of ek dit kuns wil noem nie. Maar as daar ’n mens met iets binne hulle is wat hulle probeer uitdruk, en hulle gebruik tegnologie om dit op ’n manier sigbaar of hoorbaar te maak wat hulle andersins nie sou kon nie, dan ja... ek dink absoluut.

’n Kunstenaar hoef nie noodwendig die instrument met hulle eie hande te bou om die kuns te skep nie. Die kuns kan lê in wat hulle raaksien, wat hulle kies om te sê en hoe hulle dit laat voel.

Ek dink ons is dalk net in ’n ongemaklike oorgangsfase waar ons nog probeer uitfigure wat ’n kunstenaar beteken wanneer die gereedskap begin verander.

En eerlikwaar, ek dink dit is ’n goeie gesprek om te hê. Ek het net nie die behoefte om te maak asof tegnologie die mens agter die kuns laat verdwyn nie.

Wat sê jy vir die musikant wat jare lank leer sing, ’n instrument speel of sy/haar stem ontwikkel het, en voel AI vat nou ’n kortpad?

Ek verstaan hoekom dit vir hulle so voel. As jy jare van jou lewe spandeer het om ’n instrument te leer, jou stem te ontwikkel of jou craft te slyp, kan dit baie ongemaklik wees om te sien hoe iemand met tegnologie iets kan maak sonder daardie selfde pad.

Maar ek dink ons moet versigtig wees om te sê daar is net één regte pad na musiek.

Ek kan nie sing soos ’n professionele sanger nie. Ek kan nie ’n kitaar vat en ’n song speel nie. Maar ek kan stories vertel. Ek kan skryf. Ek kan mense raaksien. Ek kan emosie en menslike gedrag in woorde omskep. Vir jare het ek gedink daardie deel van myself het niks met musiek te doen nie, juis omdat ek nie die tradisionele vaardighede gehad het nie.

AI het nie vir my ’n kortpad gegee om iemand anders se craft te steel nie. Dit het vir my ’n pad oopgemaak na ’n medium waarheen ek voorheen nie toegang gehad het nie.

En ek dink die twee dinge kan langs mekaar bestaan. Ek wil nooit vir iemand wat jare lank hulle stem ontwikkel het sê daardie werk beteken nou niks nie. Inteendeel. Ek dink daardie vaardigheid is ongelooflik.

Maar ek wil ook nie aanvaar dat iemand wat nie daardie vaardigheid het nie, daarom nie iets waardevols het om te sê nie.

Dink jy AI gaan uiteindelik kunstenaars vervang, of gaan dit kunstenaars bloot ’n nuwe instrument gee?

Ek dink AI gaan sekere dele van die kreatiewe bedryf verander, en sommige werk gaan beslis anders lyk. Dit is naïef om te dink niks gaan verander nie.

Maar ek dink ’n instrument kan nie vervang wat dit beteken om ’n mens te wees nie. Die interessante deel van kuns is vir my nie net die eindproduk nie. Dit is die rede waarom iemand iets wou sê. Die ervaring daaragter. Die manier waarop hulle die wêreld sien.

’n Kamera het fotografie nie vervang nie. Photoshop het nie ontwerp vervang nie. ’n Klavier vervang ook nie die musikant nie. Hulle verander wat moontlik is.

Ek dink AI gaan dieselfde doen. Dit gaan vir sommige mense ’n nuwe manier gee om dinge te maak waarvoor hulle voorheen nie die tegniese vaardighede gehad het nie. En vir kunstenaars wat reeds daardie vaardighede het, gaan dit nuwe moontlikhede oopmaak.

Die vraag wat my meer interesseer, is nie of AI kunstenaars gaan vervang nie. Dit is wat kunstenaars daarmee gaan doen.

Waarvoor is jy persoonlik die meeste bekommerd wanneer dit by AI in musiek kom, en waaroor is jy die meeste opgewonde?

Wat my die meeste bekommer, is nie dat daar te veel AI-musiek gaan wees nie. Ek dink daar gaan altyd mense wees wat daarna luister. Wat my bekommer, is dat musiek self betekenis kan begin verloor wanneer dit so maklik geword het om dit te produseer.

Ek sien al klaar mense wat songs massaproduseer, want hulle kan. En sommige mense maak dit voor asof hulle self alles geskryf en geskep het. Vir my raak dit problematies wanneer musiek net nog ’n manier word om vinnig inhoud of geld te produseer.

Ek is bang dat die klein spasie wat iemand het om iets werklik persoonlik te sê, kan verdwyn tussen alles wat met ’n druk van ’n knoppie gemaak word. Want as daar miljoene songs is, kan iets wat vir een mens ongelooflik betekenisvol is, maklik net nog ’n song word wat verby jou scroll.

Maar ek is terselfdertyd ongelooflik opgewonde oor die progressie van AI-musiek. Ek wil self al hoe meer leer en al hoe meer beheer oor die proses kry. Hoe beter die tegnologie word, hoe meer kan ek van die musiek wat ek in my kop hoor, self begin vormgee.

En dít is vir my exciting. Ek het met baie min musikale vaardighede begin, maar ek leer elke dag meer. Ek wil nie net ’n knoppie druk en kyk wat uitkom nie. Ek wil verstaan wat ek hoor, hoekom ek daarvan hou, en hoe ek dit nader aan my eie visie kan bring.

So ja, ek is bekommerd oor wat ons met die tegnologie gaan doen. Maar ek is baie opgewonde oor wat dit my nog gaan leer om te doen.

As ons al die AI wegvat, die stem, die visuals, die tegnologie, alles, en daar bly net Digsuster se woorde oor... wat hoop jy moet mense daarin hoor?

Dit laat my eintlik dink aan wie ek was vóór Digsuster. Ek was vir ’n baie lang tyd ’n stem in die void. Ek het baie geskryf, baie gedink en baie gevoel, maar ek het selde gevoel dat mense werklik belangstel in wat ek te sê het.

So as alles weggevat word en daar bly net my woorde oor, hoop ek mense hoor daardie stem. Die een wat altyd daar was. Die een wat vrae gevra het, stories vertel het en dinge probeer verstaan het, selfs toe niemand eintlik geluister het nie.

Ek hoop hulle hoor my nuuskierigheid. My manier van dinge uitmekaar haal en probeer verstaan. Ek hoop hulle hoor iemand wat nie bang is om na die mooi én die ongemaklike dele van menswees te kyk nie. Iemand wat vrae vra en nie altyd tevrede is met die maklike antwoord nie.

Digsuster het my vir die eerste keer laat voel dat daardie stem êrens aankom. Dat iemand dit hoor. En miskien is dit uiteindelik wat ek hoop mense in die woorde hoor... nie net ’n song nie, maar ’n mens wat uiteindelik uit die void gepraat het en besef het iemand luister.

← Terug na alle stories
Elmarie, aanbieder van Kudu Klanke

Vrae deur

Elmarie

Elmarie bied Kudu Klanke op Kudu FM aan: ’n uur se musiek in die middag, met die liedjies wat die meeste hartjies kry. Ontmoet die aanbieders