Spring na inhoud
Rubriek

Respekte

Oomie se blôg — oor 'n ou driepootpot en die brug tussen status.

Oom Stukkie · · 6 min lees

Oom Stukkie by die vuurkie met sy Omgee Beker, Bromgat op die kombers, Ducky langs hom, die driepootpot oor die vuur en Kroesir agter

Oom Stukkie skryf soos hy praat — die spelling is presies soos hy dit bedoel het.

Vanoggend sit julle se Oomie nou hier met koffie en kyk hoe Bromgat vir Ducky probeer verduidelik dat daar net plek vir één van hulle oppie ou kombers is.

Ducky sê niks.

Hy skuif ôkkie.

Nou julle se Oomie weetie of dit selfrespek is en of ’n geel badeendjie maar net baie hardkoppig is nie, ma’ goed…wag ek dwaal sommer klaar af.

Hierrie respekte-ding loop al lank saam met myse kop.

Mens hoor mos baie:

“Respek moet verdien word.”

Hmm.

Julle se Oomie weetie so mooi nie.

As ek jou vandag virrie eerste keer langs die vuurkie ontmoet, hoe moet ek dan weet watse respekte jy al verdien het?

Moet jy eers vir my vitêl wie jy is?
Wat jy doen?
Wie jy ken?

Nee wat.

Hier by Oomie begin jy sommer by 100 prisent.

Nie oorlat jy klaar iets besonders gedoen het nie. Oomie ken jou mos nog nie.

Dis net waar Oomie met mense begin.

Wat jy daarna met daai respekte maak…nou ja, daai deel is joune.

Maar julle se Oomie het oor baie vuurjies en baie mense begin wonder of respekte nie so biekie soos ’n ou driepootpot is nie.

Een poot kort en die ding staan nog so skeef-skeef vir ’n rukkie…

tot iemand die potjie roer.

Die Eerste Poot

Die eerste ene is seker die een wat mens die maklikste miskyk:

Hoe sien jy jouself?

Nie wat staan op jou naamkaartjie nie.

Nie hoeveel geld innie bank nie.

Nie of Kroesir langs jou bakkie sommer skielik baie oud lyk nie — Kroesir vat sulke dinge persoonlik.

Net jy.

Julle se Oomie het al gewonder of ’n mens nie nogal baie van sy eie waarde wys sonder om ooit daaroor te praat nie.

In hoe jy staan.

Wat jy van mense toelaat.

Hoe maklik jy jou eie stem weggee.

En ôk hoeveel jy nodig het dat iemand annirs jou belangrik laat voel.

Selfrespek is vir Oomie nie om te sê:

“Ek is meer werd as jy.”

Miskien is dit eerder om stil genoeg binne jouself te kan sê:

“Ek weet wat ek werd is. Jy hoef niks daarvoor te verloor nie.”

Die Tweede Poot

Dan is daar mense wat ons so bietjie “bo” onsself sit.

Die grootbaas.

Daai bekende ou.

Die man met baie grond.

Die slim ene met meer letters agter sy naam as wat Oomie in stannird vyf reg gespel kon kry.

En natuurlik moet mens respekte hê.

Maar julle se Oomie kyk soms wat met ’n mens gebeur wanneer iemand wat hy belangrik ag voor hom kom staan.

Partykeer verander die stem so effens.

Die rug buig sommer saam.

’n Grap raak snaakser as wat hy nou eintlik was.

’n Eie opinie kruip so stilletjies onder die tafel in.

Nou Oomie sê nie dis verkeerd nie. Miskien is iemand net skaam. Miskien het die lewe hom geleer om versigtig te wees. Mens weet mos nooit heeltemal wat ’n annir een saam met hom dra nie.

Maar dit laat my wonder:

Kan ek jou posisie respekteer sonder om my eie plek weg te gee?

Kan ek na jou opkyk…

sonder om te kniel?

Die Derde Poot

En dan kom die ene wat vir julle se Oomie nogal baie van mense se harte vitêl.

Hoe gaan jy om met iemand wat jy as “minder” as jy sien?

Nou wag — Oomie sê nie daai mens is minder nie.

Julle weet wat ek bedoel.

Die petroljoggie wat Kroesir volmaak.

Die vrou wat jou koffie bring.

Die plaaswerker.

Die kind wat nog sy sinne deurmekaar kry.

Daai ou toppie voor jou innie winkel wat sy kleingeld een-een uittel terwyl jy haastig is.

Iemand wat nie vir jou ’n deur kan oopmaak nie.

Nie jou salaris bepaal nie.

Nie jou naam op ’n lys kan sit nie.

Net ’n mens.

En Oomie het al ’n vreemde ding so tussen mense raakgesien.

Partykeer sien jy iemand amper kleiner raak voor die grootbaas…

en later praat dieselfde mens met iemand annirs asof hý nou moet kleiner raak.

Nie altyd nie.

En Oomie weet ôkkie wat alles daaragter sit nie.

Maar elke keer as ek dit sien, wonder ek oor daai eerste poot.

Hoe sien jy jouself?

Want dalk is dit juis ’n mens wat stewig genoeg in sy eie waarde staan wat nie een van die twee nodig het nie.

Hy hoef nie voor die grootbaas kleiner te raak nie.

En hy hoef nie die petroljoggie kleiner te maak nie.

Hmm.

Daar is seker ’n groot slim woord vir dit.

Julle se Oomie gaan hom nie probeer uitspreek nie.

Die Brug

Miskien is stabiele selfrespek maar net die brug tussen status.

Oomie het hom eenkeer in Engels in syne se kop gehoor en daar klink hy nogal reg:

Stable self-respect is the bridge between status.
It allows you to look up without kneeling,
and look down without making someone kneel.

Dalk is dit al.

As julle se Oomie met manne langs die vuurkie oor respekte praat, wil ek nie eintlik weet hoeveel mense jou respekteer nie.

Ek wonder eerder oor drie goed:

Hoe sien jy jouself?

Hoe sien jy jou vrou?

En hoe sien jy jou baas?

Nie om jou antwoord reg of verkeerd te merk nie.

Oomie was nooit vreeslik goed met daai rooi penne nie.

Net om te wonder of dieselfde man in al drie plekke staan.

Want jou vrou hoef nie kleiner te word sodat jy man kan wees nie.

En jy hoef nie kleiner te word omdat jou baas belangriker as jy voel nie.

Dalk lê daar êrens tussen daai twee ’n stil ding wat ons selfrespek noem.

Nou is Oomie se koffie alweer koud.

Bromgat het intussen die kombers gelos en lê oppie grond.

Ducky sit nog presies waar hy gesit het.

Hmm.

Miskien weet daai geel karnallie tog iets van selfrespek.

Maar moet hom nou asseblief niks vitêllie.

Julle se Oomie 💐

← Terug na alle stories
Oom Stukkie in die veld met sononder agter hom

Oor die skrywer

Oom Stukkie

Oomie skryf 'n gereelde stukkie vir Kudu FM — sommir rêguit soos hy praat, uit die noorde van Duits-Wes. Saam met hom kuier Bromgat, Ducky en die ou bakkie Kroesir.